Hierdie
boek is 'n poging om 'n antwoord te verskaf op 'n vraag wat een van
my ouer broers, Hennie, sowat drie jaar gelede gestel het, nl.,
Waar kom ons vandaan?
Vanwaar inderdaad!
Want ons het geen ouer, lewende, persone gehad om te vra nie. Ons
is die oudste geslag. Ons is die plafon. Dit gesê, as die jongste
kind, het ek vertrou dat ek darem sou kon steun op my ouer broers
en susters. My oudste broer is immers 16 jaar my senior. Maar dit
sou nie heeltemal so uitwerk nie. Want ons geheues is maar kort en
selektief.
Ek het begin by my ma se lyn, nl. DE BEER. My eerste vraag was wat
my ma se name was. Die antwoord lê nou nog in geheim gehul. Want
die antwoord is nog onverklaarbaar: Maria Magdalena Minnaar De
Beer. Vanselfsprekend was die volgende vraag, waar kom die Minnaar
vandaan? En ewe vanselfsprekend was die antwoord: dit was ouma DE
BEER se van. Die soektog het begin. Sonder vrug. Want daar was geen
Anna Magdalena MINNAAR wat getroud was met 'n Barend Frederik DE
BEER nie. 'n Besoek aan hul graf in Brakpan lewer ook nie 'n
antwoord nie, want haar nooiensvan word nie genoem nie.
Uiteindelik verneem ek dat daar 'n plek is waar mens geboortes en
sterftes navors, die LDS Family History Library in Parktown. Daar,
een Saterdag oggend, na ure se karring en draai aan die filmrolle,
lê dit voor my: Anna Magdalena COETZEE x Barend Frederik DE BEER.
So oorstelp en verwonderd was ek dat ek opspring en na 'n
wildvreemdeling loop en sommer vertel: "Dis my ouma daai". Hy stel
homself voor as Johan LOURENS, en wens my geluk. Van daar af het ek
verskeie bevestigings gekry in die doopinskrywings van hul kinders.
Ongelukkig ontwyk my ma se doopinskrywing ons nog. En die Minnaar
deel van haar naam is steeds 'n misterie.
Toe die SNYMANs. Beide my pa en oupa was Gerhardus Petrus gedoop.
Beide is begrawe in Brakpan. My oupa het ek nooit geken nie, hy is
oorlede 'n week of twee voor my geboorte. Weereens het ons net
geweet hulle het iewers uit die Noord-Kaap gekom. Niks spesifiek
nie.
Een van honderde telefoonoproepe bring my in kontak met Herman DU
PLOOY van Witbank. Toe hy hoor ek is van Kempton Park, stel hy
dadelik voor dat ek vir Hendrik LOUW kontak. En diè ontmoeting het
my totale fokus gegee. Hy het sy volle vindingrykheid tot my
beskikking gestel. Al sy boeke, elektroniese inligting en kontakte.
Dit alles was myne. So ontmoet ek vir Diwwie en Miemie DE BEER. Vir
my 'n hoogtepunt. Ook Janet MELVILLE wat onselfsugtig inligting
deel. Dan is daar ook Gary WESTERMANN wat die SNYMAN familie navors
met 'n onvermoeide ywer.
En dan weereens net om te wys hoe mens se weë bestuur word, gesels
ek en Hendrik een aand oor sy kinderdae. Hy haal 'n skool jaarboek
uit en wys my fotos van Kenhardt se laerskool. Ek onderbreek hom
sommer daar en dan en sê dat ek oortuig is dat my ma altyd gesê het
my pa is in Kenhardt gebore. "Dan is dit mos nie 'n probleem nie",
antwoord hy dadelik. "Want die sekretaresse van die NG Kerk was
saam met my op skool. Sy sal dit kan bevestig". Wat sy dan ook die
volgende dag doen!
So word die stene van die gebou gepak, een vir een. Tot ons nou
hier staan. Vyf en sewentig dorpe en een en negentig begraafplase
later.
Prys die Here.
Julie 2006.