INLEIDING
Vroeër jare, as daar familie uitgelê is, was die algemene groet:
Nou van watter SNYMANs is jy, neef? En dan is daar oorgegaan tot
die uitleg van die verskillende groepe, takke en lyne.
Nou, die SNYMAN - familienaam word beskou as een van 'n paar wat in
Suid-Afrika ontstaan het. Dit beteken dat daar op geen ander plek
in die wêreld, SNYMANs was, voor hulle hier sò genoem was nie. So
kan ons dus sê dat alle SNYMANs familie is. Presies oor hoe die
naam egter ontstaan het, kan ons maar net bespiegel.
Aanvanklik is daar gesê dat Christoffel SNYMAN die seun was van die
vryburger Anthony van Bengale en Catharina van Bengale. Mansel
Upham het egter met sy latere navorsing getoon dat Catharina van
Bengale wel die ma was van Christoffel. Sy was 'n banneling wat op
21 Februarie 1657 aan boord die Prins Willem by die Kaap arriveer.
Saam met haar was haar lewenslange vriendin Ansella. Catharina word
as volwassene, saam met haar vriendin Ansella, gedoop op 29 April
1668. Maar Christoffel se pa was nie Anthony nie, eerder 'n Duitse
soldaat, Hans Christoffel SCHNEIDER. Vir sy (Hans Christoffel)
oortreding om 'n kind te verwek by die eiendom van die Kompanjie
(Catharina), is hy verban na Robben Eiland. Daarna word niks verder
van hom verneem nie. (Sien "In Hevigen Woede", Mansell Upham,
Capensis).
Christoffel word gedoop op 9 Maart 1669, met Ansella as getuie.
Catharina trou uiteindelik op 16 Desember 1671 met Anthony. Anthony
was die eerste "vryswarte" wat eiendom gekoop het. As die stiefpa
van Christoffel het hy gesorg dat Christoffel (en sy ma se ander
kinders) goed versorg word. Op 14-jarige ouderdom (1683) word
Christoffel wees agtergelaat na die afsterwe van beide sy ouers
sowel as sy (half)suster. Op 8 April 1691 verwys Christoffel na
homself "als universele erfgenaam mijn Vader Anthonie van Bengale
.. in zyn leven mede vry borger alhier"
Omdat die van dus by hom onstaan het, maak ek Christoffel SNYMAN
die stamvader (a1). Dit wyk af van beide Pama en SAG se vroeëre
publikasies.
Ek vertrou dat hierdie publikasie sal dien as prikkel vir al die
ander SNYMANs en dat julle sal reageer en julle inligting
beskikbaar sal stel vir opvolgende publikasies.
Kobus
(011) 391 5292